Woensdag 25 Julie 2018

Refleksie oor week 2


LSKM 211 klas 2
Ek was baie nuuskierig om uit te vind waarvoor die gekleurde pype is. Dit was vir my baie lekker om die ander se kommentaar te hoor nadat ons na die musiekstuk geluister het en dit was vir my interessant om te hoor dat ander ook min of meer die musiek op dieselfde manier as ek ervaar het.

Die aktiwiteit met die boomwhackers was vir my baie oulik, ek voel dit is 'n eenvoudige instrument wat enige iemand kan gebruik sonder dat jy enigiets van musiek hoef te weet. Ek voel die aktiwiteit het waarde vir my as onderwyser gehad dit was nie net lekker nie maar dit was ook nodig om te konsentreer en te fokus wanneer om die boomwhacker te slaan. Vir die Grondslagfase leerders sal dit ook van waarde wees, omdat dit al die leerders betrek nie net die wat goed is met musiek nie almal kan dit saam doen en geniet. Dit bevorder ook inklusiwiteit van leerders met verskillende vermoëns en vaardighede. Alle leerders in die klas kan deelneem aan soortgelyke aktiwiteite ongeag hul kultuur, taal, geloof, ras, geslag so word multikulturaliteit ook aangeraak. Deur die leerders in groepe te verdeel gee mens vir hulle die geleentheid om te voel dat hulle iewers hoort, niemand sal uitgesluit voel nie. Dit dra ook by tot die leerder se holistiese ontwikkeling bv.

Sosiale en emosionele ontwikkeling: Leerders maak nuwe maats, hulle leer hoe om te kommunikeer, die musiek help hulle om te ontspan en hulle ervaar ʼn emosie van genot.

Persoonlike ontwikkeling: Leerders se selfbeeld en selfvertroue verbeter, omdat hulle voel hulle kan ook ʼn instrument speel.

Fisiese ontwikkeling: Die leerders beweeg rond en so ontwikkel hulle groot motoriese vaardighede.

Kognitiewe ontwikkeling: Die leerders moet op ʼn kritiese manier dink om die aktiwiteit op die regte manier uit te voer.

In die klas het ons ook gepraat oor kunste integrasie, volgens my verwys kunste integrasie na die gebruik van enige vorm van kuns bv. musiek, regdeur die kurrikulum om die leerders te help om ʼn konsep makliker te verstaan en te onthou. Die gebruik van musiek in ander vakke sal leerders motiveer om deel te neem en die vak te geniet. Uit eie ondervinding weet ek dat om iets te leer met die gebruik van ʼn liedjie help dit leerders om dit langer te onthou, beter te verstaan en te leer op ʼn manier wat vir mens lekker is. Dus sal dit steeds ʼn impak op leerders hê selfs nadat die les aangebied is.Klas twee was vir my baie lekker en ek sal graag eendag boomwhackers vir my klas wil aanskaf.

Maandag 23 Julie 2018

Refleksie oor week 1


LSKM 221 klas 1
My eerste indruk van die klas is positief, alhoewel die klas effens klein en beknop is, het ek baie welkom en op my gemak gevoel. Dit was baie oulik dat almal hul name en iets van hulself kon sê, veral toe ons uitvind iemand verjaar en ons kon bydrae om haar dag spesiaal te maak deur vir haar te sing. Ek het met 'n swaar gemoed klas toe gekom, dit is nogal 'n uitdaging om na 'n lekker vakansie weer vroeg in die koue op te staan en betyds te wees vir klas, maar ek is glad nie spyt ek was by klas nie dit was nogal pret.

Die aktiwiteit wat ons in die klas gedoen het, was aanvanklik bietjie "weird", maar tog het ek vinnig besef wat die doel van die aktiwiteit was, ek moet sê die "step" gedeelte was baie eenvoudig, maar die klap deel het my so effens deurmekaar gehad. Ek het iets baie waardevol agter gekom, dit is eenvoudiger om op die ritme te klap as mens dit gesien en gehoor het op dieselfde tyd, maar deur dit net te hoor maak dit bietjie meer ingewikkeld (ek het heel agter in die klas gestaan en kon nie mooi sien tot voor nie). Dit het my laat besef dat mens tydens die onderrig proses so veel as moontlik sintuie moet gebruik om die taak makliker te maak. Ek dink vir my as onderwyser is dit so belangrik om eendag die leerders in my klas te leer deur die meeste van hul sintuie by die onderrig proses te betrek en ook vir hulle te leer deur demonstrasies te gebruik. Ek voel dat 'n soortgelyke aktiwiteit in die Grondslagfase klaskamer al die leerders betrokke sal kry en dit vir hulle sal lekker wees om rond te beweeg, mens kan selfs 'n hele speletjie daarvan maak en sonder dat leerders agter kom ontwikkel en leer hulle sekere vaardighede aan soos konsentrasie en balans. 

Die eerste klas was vir my lekker en na klas het ek sommer opgewonde gevoel oor die module. Ek hou baie van musiek en kan nie wag om die regte tegnieke en maniere te leer om dit eendag in my klaskamer te gebruik nie.