Donderdag 27 September 2018

Leereenheid 4

Kunste integrasie in die Grondslagfase.

Om kuns in die kurrikulum te integreer is nie net om dit in die vak Lewensvaardigheid aan te bied nie, maar om kuns soos drama, musiek ens. ook in ander vakke te gebruik om leerders te help om die vak te geniet om op 'n lekker manier te kan leer sonder om net stil te sit en passief te wees. 
Daar is baie voordele om kuns regdeur die kurrikulum te integreer, dit bevorder leerders se deelname en motiveer leerders en dit bevorder akademiese prestasie. Dit het 'n groter effek op leerder se konsentrasie en help leerders om inligting vinniger en makliker in die langtermyn geheue te stoor en om makliker assosiasies te maak.

Kuns soos musiek het ook baie voordele en waarde in die multikulturele klaskamer omdat dit kinders help om kennis en vaardighede aan te leer. Die multikulturele klaskamer is 'n omgewing waar alle rasse en kulture met dieselfde waardigheid, respek en regverdigheid behandel word. Om kinders van vroeg af bloot te stel aan verskillende tipes musiek is 'n fantastiese geleentheid om hulle bewus te maak van diversiteit en verskillende kulture in die klaskamer, asook om hul te leer om respek en waardering te hê vir mense en dinge wat anders is. Dit help kinders om ook bewus te raak van die wêreld waarin hulle leef en wat rondom hul gebeur.

Inklusiewe onderwys, is die proses waar gehalte onderwys aan alle leerders verskaf word terwyl daar respek is vir leerders met verskillende vermoëns, behoeftes en leer eienskappe asook waar alle vorms van diskriminasie uitgeskakel word. Inklusiwiteit voorsien ook in alle behoeftes van leerders hetsy dit fisiese uitdagings, sosiale agterstande, kulturele verskille of enige leergestremdheid is. Dit is so belangrik om musiek onderrig in klaskamers te gebruik omdat dit ook bydra om inklusiwiteit en natuurlik die holistiese ontwikkeling van leerders te bevorder. 

Dit bly steeds die onderwyser se plig om die musiek aktiwiteite so te beplan as deel van Lewensvaardigheid, maar ook ander vakke om 'n waardevolle bydrae te lewer tot die multikulturele klaskamer en inklusiewe onderwys. Die beplanning van hierdie tipe aktiwiteite moet nie net as 'n verantwoordelikheid gesien word nie, maar as 'n voorreg om jou kennis as onderwyser so te gebruik om 'n waardevolle bydrae te lewer om leerders te ondersteun en te help ontwikkel sodat elkeen sy/haar volle potensiaal kan bereik.

Leereenheid 2

Die ervarings en reaksie op musiek in die Grondslagfase.
In die grondslagfase is dit belangrik om die musiek aktiwiteite so te beplan dat dit geskik is vir die vlak en graad van die leerders. Daar is 'n hele klomp elemente wat met musiek verband hou en as daar kreatief gedink word deur die onderwyser kan sy van die regte hulpmiddels gebruik maak om 'n aktiwiteit of les uit te werk vir elk van die elemente. 

Die elemente van musiek en eenvoudige aktiwiteite sluit in:
Metrum: Dit is niks anders as die beat van 'n liedjie nie, Kinders kan 'n aktiwiteit doen waar hulle die beat met hul voete moet stamp dit is eenvoudig omdat die beat heeltyd konstant bly soos bv. jou hartklop.
Ritme: Die ritme is nie konstant nie en die leerders kan hul hande gebruik om die ritme te klap en verskillende bewegings met die hande te doen wat by die ritme pas. Amper soos die aktiwiteite wat ons in die klas gedoen het.
Melodie: Dit is die toonhoogte bekend as do, re, me, fa, so, la, ti, do. Dit is so oulik om dit vir die leerders op dieselfde manier te leer soos ons dit ook in die klas gedoen het met die handseine op die verskillende hoogtes om elkeen van die toonhoogtes aan te dui.
Tempo: Dit is hoe vinnig of stadig die musiek is, dit sal oulik wees om 'n liedjie vir leerders te speel waar leerders dan stadig moet loop as die musiek stadig is en vinnig op een plek moet rond trippel wanneer die musiek vinnig is.
Dinamiek: Dit is hoe hard en sag die musiek is. Vir 'n aktiwiteit wat verband hou met dinamiek kan daar weereens vir leerders 'n liedjie gespeel word en die leerders kan shackers wat hulle self gemaak het skud sodat dit by die musiek pas bv. hul skud die shackers hard wanneer die musiek hard is en wanneer die musiek sag is skud hul dit saggies.
Tekstuur: 'n Voorbeeld daarvan is wanneer leerders in groepe van 2 of 3 verdeel word en die eerstegroep begin 'n liedjie sing dan val die tweede groep in en begin die liedjie sing en daarna val die derde groep in en sing die liedjie, m.a.w. almal sing verskillende woorde op verskillende tye.

Dit is baie effektief om van instrumente soos schakers, boomwhackers en driehoekies gebruik te maak in die Grondslagfase klaskamer omdat alle leerders in staat is om dit te kan gebruik ongeag hul ouderdom en vaardighede. Dit is eenvoudige instrumente wat net geskud of geslaan hoef te word om 'n klank te maak. 'n Bonus is dat van hierdie instrumente baie koste effektief is en self gemaak kan word.

Soos vroeër genoem kan bewegings bydra tot die leerders se motoriese ontwikkeling. 'n Ander eenvoudige, maar belangrike ding is liggaam perkussie, dit is wanneer die liggaam gebruik word om bv. 'n klank te maak soos om teen jou bene te slaan. Dit sluit aan by beweging en dans wat noodsaaklik is vir kinders se motoriese ontwikkeling.

Sang maak ook 'n groot deel uit van musiek en is veral belangrik in die Grondslagfase. Om te sing het baie waarde as dit kom by leerders se taalontwikkeling, uitspraak, woordeskat en singkonstruksie. Voor leerders kan begin sing moet hul eers die woorde van liedjies leer. Leerders kan slegs die woorde van liedjies leer wanneer die liedjie opgebreek word in kleiner eenhede en dan word die woorde stadig en stukkie vir stukkie vir die leerders geleer.

Musiek is van waarde en hou groot voordele in vir leerders en hul ontwikkeling.


Leereenheid 1



Die waarde wat musiek het op die holistiese ontwikkeling van Grondslagfase leerders.

Grondslagfase leerders gaan deur verskeie ontwikkelingsfases bekend as die holistiese ontwikkeling en dit sluit die volgende in:
  • Fisiese ontwikkeling bv. fyn en groot motoriese vaardighede.
  • Kognitiewe ontwikkeling wat konkrete denke insluit.
  • Taalontwikkeling wat bydra tot die aanleer van woordeskat om effektief te kan kommunikeer en wat bydra tot akademiese prestasie.
  • Persoonlikheid ontwikkeling asook emosionele ontwikkeling.
  • Sosiale ontwikkeling bv. interaksie met maats. 
Hoe musiek kan bydra tot die leerders se holistiese ontwikkeling

Fisiese ontwikkeling: Wanneer leerders dans terwyl hulle na musiek luister of wanneer hulle sing bevorder die verskillende bewegings die leerders se fyn en groot motoriese vaardighede. Dit is vir die leerders lekker en tog leer hulle hoe om hulle liggaam te beweeg en te beheer sonder dat hulle daarvan bewus is.
Kognitiewe ontwikkeling dit is denke, kinders leer dink oor verskillende klanke hulle leer van instrumente en die klanke wat instrumente maak ens.
Taalontwikkeling: Wanneer leerders 'n liedjie sing is daar natuurlik een of ander taal betrokke en so ontwikkel kinders se taal en waardeskat in die Huistaal of addisionele taal afhangende van die liedjie.
Emosionele ontwikkeling: Musiek help leerders om bewus te raak van verskillende emosies, leerders kan ook konneksies vorm tussen verskillende tipes musiek en emosies. Die aktiwiteit wat ons in die klas gedoen het waar ons 'n prentjie moes teken van ons gevoelens terwyl ons na die musiek geluister het, is ook baie oulik om in die Grondslagfase klaskamer te gebruik.
Sosiale ontwikkeling: Wanneer maatjies saam dans en sing leer hulle ook sosiale vaardighede aan. Leerders kan ook van verskillende maats in die klas se tale en kulture leer wanneer maats met mekaar praat oor die tipe musiek, bewegings en liedjies wat in hul kulture voorkom

Ek glo dit is so belangrik dat musiek aktiwiteite nie net in Lewensvaardighede as vak gebruik moet word nie, maar dat dit ook in ander vakke gebruik moet word. Die musiek aktiwiteite moet regdeur 'n les geïntegreer word terwyl elke aktiwiteit so beplan word om by te dra tot die holistiese ontwikkeling van elke leerder in die klas.