Donderdag 27 September 2018

Leereenheid 4

Kunste integrasie in die Grondslagfase.

Om kuns in die kurrikulum te integreer is nie net om dit in die vak Lewensvaardigheid aan te bied nie, maar om kuns soos drama, musiek ens. ook in ander vakke te gebruik om leerders te help om die vak te geniet om op 'n lekker manier te kan leer sonder om net stil te sit en passief te wees. 
Daar is baie voordele om kuns regdeur die kurrikulum te integreer, dit bevorder leerders se deelname en motiveer leerders en dit bevorder akademiese prestasie. Dit het 'n groter effek op leerder se konsentrasie en help leerders om inligting vinniger en makliker in die langtermyn geheue te stoor en om makliker assosiasies te maak.

Kuns soos musiek het ook baie voordele en waarde in die multikulturele klaskamer omdat dit kinders help om kennis en vaardighede aan te leer. Die multikulturele klaskamer is 'n omgewing waar alle rasse en kulture met dieselfde waardigheid, respek en regverdigheid behandel word. Om kinders van vroeg af bloot te stel aan verskillende tipes musiek is 'n fantastiese geleentheid om hulle bewus te maak van diversiteit en verskillende kulture in die klaskamer, asook om hul te leer om respek en waardering te hê vir mense en dinge wat anders is. Dit help kinders om ook bewus te raak van die wêreld waarin hulle leef en wat rondom hul gebeur.

Inklusiewe onderwys, is die proses waar gehalte onderwys aan alle leerders verskaf word terwyl daar respek is vir leerders met verskillende vermoëns, behoeftes en leer eienskappe asook waar alle vorms van diskriminasie uitgeskakel word. Inklusiwiteit voorsien ook in alle behoeftes van leerders hetsy dit fisiese uitdagings, sosiale agterstande, kulturele verskille of enige leergestremdheid is. Dit is so belangrik om musiek onderrig in klaskamers te gebruik omdat dit ook bydra om inklusiwiteit en natuurlik die holistiese ontwikkeling van leerders te bevorder. 

Dit bly steeds die onderwyser se plig om die musiek aktiwiteite so te beplan as deel van Lewensvaardigheid, maar ook ander vakke om 'n waardevolle bydrae te lewer tot die multikulturele klaskamer en inklusiewe onderwys. Die beplanning van hierdie tipe aktiwiteite moet nie net as 'n verantwoordelikheid gesien word nie, maar as 'n voorreg om jou kennis as onderwyser so te gebruik om 'n waardevolle bydrae te lewer om leerders te ondersteun en te help ontwikkel sodat elkeen sy/haar volle potensiaal kan bereik.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking