Maandag 08 Oktober 2018

Leereenheid 3

 Musikale spel in die Grondslagfase

Om te speel, maak 'n groot deel uit van kinders se lewens en is baie belangrik vir hulle ontwikkeling. Musikale spel is speletjies waar;
·         leerders iets aktief doen.
·         daar 'n vorm van musiek betrokke is bv. sang, dans, verskillende vorms van instrumente soos perkussie instrumente, selfgemaakte instrumente of "find" instrumente.
·        leerders hulself kan geniet en vry voel om deel te neem.
Musikale spel moet eienskappe van spel insluit d.w.s. dit moet vir die leerders lekker wees om aan die speletjie deel te neem, leerders moet gewillig wees om saam te speel en daar moet duidelike reëls wees van hoe die speletjie werk.

Om met instrumente te speel vorm deel van musikale spel en dit is belangrik dat Grondslagfase leerders daaraan blootgestel word. Dit het baie voordele en help leerders met die ontwikkeling van gehoor om verskillende klanke te kan beskryf en te kan identifiseer. Wanneer leerders met instrumente werk of speletjies speel met instrumente leer hulle hoe om respek en waardering vir instrumente te hê, asook hoe om die instrumente op te pas, te hanteer en te bêre.

Musikale spel help ook met die aanleer van verskillende vaardighede wat bydra tot leerders se holistiese ontwikkeling en het 'n positiewe invloed in die multikulturele klaskamer. Sekere speletjies help met middellyn kruising, koördinasie, fyn en groot motoriese ontwikkeling, probleemoplossing ens. Leerders se selfvertroue ontwikkel, daar vind interaksie tussen leerders plaas, almal kry gelyke geleentheid niemand word uitgesluit op grond van vaardighede, taal of ras nie en die verskillende ervarings help dat daar internalisering van konsepte en vaardighede plaasvind.

Daar is 'n verskeidenheid van musikale speletjies wat gespeel kan word. Die speletjie wat ons gespeel het tydens klas, met die klippie was baie oulik. Dit sal dalk beter wees om iets groter as klippies te gebruik vir Grondslagfase leerders soos stokkies wat hul makliker sal kan hanteer. Die onderwyser kan ook speletjies uitdink of bestaande speletjies aanpas om by die musiek en les te pas solank die speletjies 'n doel het, pret is, goeie en duidelike reëls het sodat die grondslagfase leerders presies weet wat van hul verwag word en verseker dat al die leerders 'n gelyke kans kry om vrywilliglik deel te neem kan dit gespeel word as ʼn musikale speletjie.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking